top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


EEDSWERING – ‘n CHRISTEN PRAAT DIE WAARHEID


Matt 5:33-37 – “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ‘n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ‘n eed aflê nie, ..........”

Vergelyk ook Spr 21:23 – “Wie sy mond en sy tong in toom hou, hou hom uit gevaar.”


Ons leef in ‘n wêreld waar beloftes baie maklik gemaak word. Om ‘n eed te neem moet baie versigtig mee omgegaan word. Egtheid van woorde word baie gou deur mense bevraagteken veral wanneer leë beloftes gemaak is onder eed. “ ‘n Regverdige mens dink voor hy antwoord; goddelose mense sê net slegte dinge” (Spr 15:28).


Dink maar aan die huweliksbelofte – “Till death do us part” – om nie lank daarna in die skeihof ontken te word. Dit het ‘n leë tradisie geword instede van realiteit. ‘n Ander voorbeeld is beloftes van politikusse. Politieke verdrae en onderhandelings beteken deesdae niks. Die mens het die eed wat hy geneem het met sy aanstelling, heeltemal vergeet en sy “erewoord” het verander na wat hý wil en iets waarby hý baatvind.


Nog ‘n voorbeeld van ‘n eed wat maklik gebreek word is kerklidmaatskap. Wanneer die Belydenisvrae deur die leraar aan die voornemende lidmaat gevra word, is die antwoord daarop altyd – “ ja.“ God is as getuie geroep om later net deur die mens, verbreek te word. Dit word amper beskou as lidmaatskap van ‘n rugby- of gholfklub. As ek nie van die reëls hou nie, kry ek ‘n ander klub waar die reëls my pas. “Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie” (Pred 5:4).


Christus leer ons bid: “Laat U Naam geheilig word” en nie laat my naam deur U gedien word nie. As ons werklik in diens van God staan, sal ons Sy Naam met eerbied gebruik, beloftes met ‘n eed bekragtig in opregtheid en net wanneer dit werklik nodig is, maak. Ons kan nie Sy Naam “ydellik” gebruik nie. Dit is onbesonne, roekeloos, vals en STRAFBAAR! ‘n Christen wat “sy tong in toom hou”, praat namens Christus, daarom praat hy soos Christus.


Gebed: Help tog Here, ons mense bedrieg mekaar, ons mislei mekaar met vleitaal. Beskerm ons asseblief teen valsheid en bedrog. Help ons om U Naam gestand te doen.

Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page