top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


EEDSWERING – ‘n CHRISTEN PRAAT DIE WAARHEID

Matt 5:33-37 – “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ‘n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ‘n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek van Sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ‘n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die bose.”


By die Jode van destyds was daar ‘n sterk tendens aanwesig om die misbruik van die eedaflegging te bekragtig. Jesus se vierde teenstelling: “Maar Ek sê vir julle .....”, verbied dit totaal. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het hul eie reëls bygevoeg en wou dit hê dat wanneer daar ‘n eed geneem is in die Naam van die Here, dit bindend was, maar wanneer God se Naam nie bygevoeg is nie, was dit nie bindend nie. Dit was natuurlik “ontwykende” eedswering. Die resultaat was dat wanneer daar gesweer is by die hemel, aarde, Jerusalem of die persoon se kop, was dit maklik om die eed nie na te kom nie.


Wat Jesus hier beklemtoon is dat dit nie nodig is om God as getuie te roep nie. God is klaar daar – God is alomteenwoordig. Sy troon is die hemel, die aarde die rusplek van Sy voete en Jerusalem is Sy stad. ‘n Mens se kop behoort nie aan hom nie, hy kan nie eers sy hare verander nie. Daar is niks op die aarde wat nie aan God behoort nie!


Die waarheid is dat die lewe nie in kompartemente opgedeel kan word nie. ‘n Kompartement waar God teenwoordig is en ‘n ander kompartement waar God nie teenwoordig is nie. Daar kan dus nie ‘n sekere standaard of gedrag in die kerk wees en ‘n ander standaard of gedrag by die werk, skool of waar ookal. God kan nie “uitgenooi” word na sekere plekke en nie na ander nie,


GOD IS ORAL!!


God hoor nie net sekere woorde wat deur die mens ge-uiter word in Sy Naam nie, Hy hoor alle woorde. Daarom moet alle eedswering beskou word as heilig want elke eed wat geneem word is in die teenwoordigheid van God.


Waar laat dit ons? Die feit is dat mens soms onder eed geplaas moet word (in die howe), omdat ons deel is van ‘n oneerlike wêreld. In ‘n perfekte wêreld, ‘n Koninkryks-wêreld van God, sou dit nie nodig gewees het nie. As Christen het ons ‘n verpligting om in die waarheid te leef en dan het ons nie ‘n eed nodig om dit te bevestig nie.


Gebed: Here, laat U waarheid ons lei en onderrig ons daarin. Maak ons gees en gedagtes nuut sodat ons alle valsheid kan aflê en ons onder mekaar die waarheid praat. (Ef 4:23, 25)

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page