top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


EGSKEIDING


Matt 5:31-32 – “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ‘n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”


Vergelyk ook Deut 24:1 – “Wanneer ‘n man met ‘n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy ‘n skeibrief skryf en dit vir haar gee en uit sy huis uit wegstuur.”


Oor hierdie derde teenstelling van Jesus het baie Christene al geworstel. Hierdie twee verse oor egskeiding en hertrou het al talle debatvoering tot gevolg gehad. Die rabbi’s het dit relatief ‘n maklike praktyk gemaak. Hulle weergawe van rede tot egskeiding soos vervat in Deut 24:1, beteken dat ‘n man sy vrou kon skei oor feitlik enige rede. Hierdie mensgemaakte reël wat by God se sewende gebod gevoeg is, was om die minste te sê, verregaande. “As dit gebeur” dan moet “dat gedoen word” was vir enige Jood ‘n maklike manier om van sy vrou “ontslae” te raak. “Iets onbetaamliks” was ‘n wye stelling en elke rede is aangegryp om dit toe te pas. Te veel sout op sy kos, vrou het te veel gewig aangesit, sy het vir hom onaantreklik geword, sy het oneerbiedig met hom gepraat, is maar enkele voorbeelde daarvan.


Jesus hou egter ondubbelsinnig die sewende gebod aan hulle voor: “Maar Ek sê vir julle....” Egskeiding behalwe oor owerspel is vir God nie aanvaarbaar nie. Dit is volgens Jesus nie ‘n manier om huwelikskonflik op te los nie. Dis gewoon egbreuk! Daarmee neem Jesus nie ‘n ongenaakbare houding in nie, inteendeel, Hy wil hê dat ons eers voor die wil van God buig. Daardie basiese oorgawe aan God moet gemaak word voordat enige “ja maar” aangevoer word.


Die huwelik is onverbreekbaar – “Wat God saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie” (Mark 10:9). Egskeiding behalwe oor owerspel, los nie die probleem op nie. Die probleem lê nie in die huwelik nie maar in die egpaar van die huwelik en ‘n mens kan homself nooit ontvlug nie, behalwe natuurlik deur die dood. Ons howe is vandag oorvol a.g.v. egskeidingswette wat elasties, vergunnend en maklik geword het. Die slegte daarvan is dat almal daaronder ly – mans, vrouens, kinders, familie en selfs vriende.


Is ons nog in staat om daardie basiese oorgawe aan God te maak voordat enige “ja maar” aangevoer word? Of soek ons maar die eerste beste mensgemaakte “oplossing” wanneer dinge verkeerd loop in die huwelik?


Gebed: Here, as U die huis nie bou nie, swoeg ons wat daaraan bou tevergeefs. Daarom draai ons na U toe en pleit dat ons lewe tog nie tevergeefs moet wees nie. Ons bely dat ons ons dae ombring deur eie planne te maak, maar op die einde van die dag is dit planne wat tevergeefs was. Dankie dat U nooit ophou om aan ons huise en huwelike te bou nie. Gee dat ons in U liefde mekaar sal waardeer en dat ons mekaar sal bystaan in huweliks krisistye.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page