top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


KUISHEID

Die sewende Gebod


Matt 5:27-30 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg.......”


Vergelyk ook Kol 3:5 – Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van jul lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.”


Die wêreldkultuur het ontaard waarin die sonde van wellus biljoene rande verdien. Pornografiese leesstof, naaktheid in TV programme en rolprente, onwelvoeglike advertensies, karige kleredrag en vele meer, is aan die orde van die dag en voed die sonde van egbreuk met die oë. As ons eerlik wil wees moet ons erken, ons staan skuldig voor God want ons het die sewende gebod oortree in ons gedagtes, lewe en oë.


“We feed the eyes with the sight of the forbidden fruit, not only looking for that end that we may lust, but looking till we do lust and then to gratify the lust!” (Matthew Henry).


Jesus se opdrag is om die regteroog of regterhand (enige liggaamsdeel) wat aanleiding gee tot sonde, van ontslae te raak. Met respek, die wêreld sou nie goed gelyk het waar elke mens sekere liggaamsdele nie gehad het nie. Buitendien kan daar nog steeds met die ander oog, die ander hand én met die gedagte, sonde gedoen word. Wat het Jesus daarmee bedoel dat ons die liggaamsdeel wat pla, moet verwyder? Jesus wil dat ons met radikale terapie die sonde beheer! Paulus verklaar in Rom 13:13-14 – “Julle moet welvoeglik lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie gedurig daarop uit wees om jul sondige begeertes te bevredig nie.”


Dit beteken ons moet gewillig wees om met dit wat aanleiding gee tot die sonde, “die aardse dinge doodmaak wat nog deel van ons lewe is.” Ons moet ontslae raak van die ou mens wat na hartelus en harteloos volgens die begeertes van ons sondige natuur, leef, en so nou en dan God wil dien. Alleen kan en sal ons nie suksesvol wees nie. Elke keer wanneer satan sy suksesvolste verleidingstegniek van die sensuele en seksuele aan ons voorstel, moet ons hom troef met: “Weerhou my van ‘n nuttelose lewe, Heer. Laat my leef op die weg wat U my aanwys” (Ps 119:37)


Gebed: Hemelse God en Vader, ons het so intens vasgevang geraak in die wêreld van wellus dat ons vergeet het om ons gedagtes te rig op dinge wat daar Bo is. Saam met Christus is ons lewe verborge in U maar ons voed ons siel met aardse gemors. O Here, maak ons brandend van U liefde. Maak ons oë oop om U in alles raak te sien. Verhoed dat ons ingesuig word deur die tydelike plesier van die lewe en laat ons vashou aan U, ons Anker, wat ewigheidswaarde het.

Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page