top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


KUISHEID

Die sewende Gebod


Matt 5:27-28 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”

Vergelyk ook 1 Joh 2:16 – “Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie maar uit die wêreld.”


Onwettige begeertes is verkeerd want dit druis in teen God se natuur en wil. Hy is sedelik perfek en verwag geregtigheid en waarheid in ons harte. Die feit is dat ons liggaam ‘n tempel van God en die Gees is, en dit het ewigheidsbetekenis (1 Kor 3:16; 6:19). Die huwelik is heilig – God gebruik die huwelik selfs as beeld van die verhouding tussen Hom en Sy gemeente. Die huwelik gaan oor die innigste en volledige liefdesverbintenis tussen één man en één vrou en is deur God ingestel. God het vir Adam net één vrou gegee met die opdrag om één vlees te wees (Matt 19:4-6).


Wat bedoel Jesus met “Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg?” Met respek gesê, God het die vrou geskape as die skoner geslag en ‘n man kan seker skoonheid bewonder? Is Jesus nie dalk ‘n bietjie moedswillig met Sy verklaring nie? Dit is net daar waar die probleem lê – die man se oog en selfs tong lei na verkeerde begeertes. Onkuise grappe en praatjies druis dan in teen die heilige huwelik. “Dit is ‘n nikswerd mens vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, met die oog te knik en met die vingers tekens te gee” (Spr 6:12-13).


Die oë is die hoofkanaal tussen die liggaam en die wêreld daar buite wat ‘n begeerte van sondige gedagtes koppel met sondige “plesier.” Die oë voed die verstand en hart met wellus en sondige begeertes. ‘n Sterk begeerte ontaard dan in ‘n verbode handeling – “Hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie” (2 Pet 2:14). Die sonde binne ons vervang die goeie Godgegewe begeertes met perverse wellus. God verbied hierdie begeertes wat gerig is op dit wat verbode is en indruis teen die huwelik. “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom” (Heb 13:4).


Gebed: Here, U het ons na U beeld geskape. U het so baie van die mens verwag dat U ons met U beeld vertrou het. Here, ongelukkig het ons as gevolg van die sonde so uit pas geraak dat ons selfs in die huwelik faal. Dit wat U mooi gemaak het, het ons met sondige begeertes in verbode handelinge verander. Vergewe ons Here en bring ons tot ander insigte om die huwelik te respekteer.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page