top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


KUISHEID

Die sewende Gebod

Matt 5:27-28 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”


Jesus wil met Sy tweede teenstelling die verhouding tussen man en vrou normaliseer. Weereens weerlê Jesus die interpretasie van die Fariseërs oor die sewende gebod. Die Fariseërs en skrifgeleerdes was net gefokus op die eksterne interpretasie daarvan: “ ‘n Man is net skuldig aan egbreuk indien hy ‘n seksuele verhouding met ‘n getroude vrou het.“ “Maar Ek sê vir julle: ....” Jesus weerlê dit met die interne van die man – wellus in die hart wat volg op die begeer van die oë. Die gevolg is: ”As jul getrouheid aan die wet nie méér inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matt 5:20b)


Net die fisiese daad van seksuele wellus het saak gemaak. Waar het die Fariseërs fouteer? Hulle het nie die Skrif met die Skrif ge-interpreteer nie. Hulle het net inhoud gegee aan die sewende gebod: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie” en gerieflikheidshalwe die tiende gebod ignoreer: “Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie.” Hulle ignoreer ook die profete se leringe: “Soos bronstige hingste het hulle geword, hulle runnik elkeen agter sy naaste se vrou aan” (Jer 5:8) en Miga wat verwys na “hulle wat op die bed lê en beplan, wat wag vir die son om op te kom sodat hulle iemand kan gaan verkul” (Miga 2:1-2).


Jesus se preek gaan oor die heiligheid van die huwelik. Die getroude vrou se posisie in die destydse samelewing was uiters kwesbaar. Dit was eensydig haar plig om aan haar man getrou te bly deur vreemde mans se begerige oë en hande te ontwyk. Jesus neem nou die vrou en daardeur die huwelik in beskerming. Die man moet met die regte oog na die vrou kyk. Die vrou sal dit dan makliker hê en die huwelik onaangeraak bly.


Dit gaan nie oor die onnatuurlike onderdrukking van die seksuele gedagtes nie, maar oor die oorvloediger geregtigheid van die koninkryk van die hemel, waar die man nie gedurig op die loer is na watter vrou hom ten prooi kan val nie. Die beste om hierdie gedagtes die hoof te bied, is om ons gedagtes aan Christus te wy sodat daar nie tyd en plek is vir ander gedagtes nie. William Barclay vat dit mooi saam: “The inevitable law of human nature is that the more a man says he will not think of something, the more that something will present itself to his thoughts.”


Gebed: Vader, dit wat U mooi gemaak het tussen huweliksmaats, het die mens die lelike daaruit gehaal deur dit te misbruik. Ons, Christen mense se natuurlike behoefte van liefde, het in wellus sonde verval en daarmee ruk ons U instelling van die huwelik uitmekaar. Lei ons om mekaar te aanvaar soos wat U, Jesus ons aanvaar het, tot eer van God. (Rom 15:7)

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page