top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:17-20 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom ......... Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Vs 20).

Vergelyk ook Matt 23:23 – “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie.”


Die Fariseërs was tot in die fynste besonderhede pligsgetrou aan die wet. Hulle getrouheid het gepaard gegaan met hulle uiterlike optrede – hoe meer hulle kon doen van die wet, hoe meer sal hulle vir God kan beïndruk. Kwantiteit in plaas van kwaliteit! Hulle leerboeke van reëls en regulasies, volgens hulle interpretasies, het dikker en belangriker geword as die Woord van God.


Die “getrouheid aan die wet” beteken om op ‘n ander manier getrouer te wees – ‘n getrouheid wat in baie meer as die nakoming van pligte bestaan maar eerder in dade van dankbaarheid gedoen kan word. Dit beteken om nie net met mooi godsdienstige woorde ons wetsgehoorsaamheid aan te prys nie maar om in ‘n persoonlike en innige gemeenskapverhouding met God te leef – om getrou te bly aan die God van die wet.


Dit is egter nie so maklik nie! Ons worstel telkens opnuut om in geloof na al die gebooie van God te leef. Saam met Paulus erken ons dat die sonde ‘n vastrapplek in ons lewe gekry het: ”Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer met die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is” (Rom 7:21-23). God ken ons harte en ons bedoelings en daarom het ons as Christene ‘n groot verantwoordelikheid. As nuwe mense moet ons leef met ‘n nuwe styl.


Ons leef die wet na omdat ons God lief het; en ons het God lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. “Wie God liefhet, het sy naaste ook lief” (1 Joh 4:21). As ons die wet as spieël voor ons hou sal ons ons ellende waarneem en na God toe vlug. Die wet is nie meer ‘n aanklaer nie maar ‘n herder wat ons lei op ‘n pad van liefde.


Gebed: “Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom 7:24-25). Dankie Heer!

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page