top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:17-20 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.....”

Vergelyk ook Jak 2:10 – “As iemand die hele wet onderhou maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.”


Jesus stel dit onomwonde aan Sy luisteraars dat Hy nie “gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie.” Hy het by tye radikaal verskil van die skrifgeleerdes en Fariseërs omdat Hy nie saamgestem het met hul mensgemaakte wette nie. God het ‘n verbond met Israel gemaak en die voorwaardes van daardie verbond was die wet. Die profete van ou Israel het verduidelik hoe om hierdie voorwaardes na te kom. Niemand kon egter die voorwaardes nakom nie en dit het ontaard in ‘n vreugdelose, sondige volk wat verdoem was tot onvolmaaktheid.


Jesus se koms na hierdie sondige wêreld toe het dinge verander. “Ek het gekom om die wet en die profete hulle volle betekenis te laat kry.” Dít is die verskil. Christus het die wet volbring en die geregtigheid vir ons so verwerf. Hy het die brug na God toe gebou sodat ons die wet kan doen uit dankbaarheid vir Jesus.


God se wet is nie bedoel om neerdrukkend en knellend of selfs beperkend te wees nie. Die wet van God is die padkaart wat ons help om die lewe met vreugde te geniet, ‘n riglyn vir ‘n lewe wat vir God aanneemlik is en wat tot voordeel en geluk van ons as Sy verbondskinders is. Daarom sal ons lewenswandel op aarde (praat en doen) volgens die wet beoordeel word. Die oordeel gaan oor die wet wat ons lewensruimte wil gee en of ons optree volgens God se wil.


Die probleem is egter dat ons nie tydens ons aardse lewe die wet ten volle kan onderhou nie. “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie” (1 Joh 1:8). Die volmaaktheid word egter nie in hierdie lewe bereik nie. Dit is gelukkig nie nodig om ontmoedig te word nie want “Christus is die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word” (Rom 10:4). Dankie tog!!!


Gebed: O Here, ons God – U is so vol liefde en genade. U onderhou U verbond met ons. U skenk ons vergifnis van sondes en maak elke dag vir ons ‘n nuwe begin moontlik. U bewerk ons verlossing. Lei ons om te onthou dat U sterker is as al die bose magte en dat ons maar met die grootste eenvoud met U kan praat. Gee ons ‘n fyn aanvoeling sodat ons in elke omstandigheid sal kan onderskei wat die regte ding is om te sê en doen.

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page