top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Die vervulling van die wet

Matt 5:17-20 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.....”


Jesus is steeds besig met Sy preek daar op die berghang langs die See van Galilea. Hy dui nou aan dat die dissipels, dit sluit ons ook in, meer getrou aan die wet as die skrifgeleerdes en Fariseërs moet wees. Jesus verklaar dat die wet meer is as wat die skrifgeleerders en Fariseërs voorhou. Vir die Jode van daardie tyd was Jesus se uitspraak oor die wet seker ‘n groot skok want vir hulle was die tien gebooie, die Pentateug (eerste 5 boeke van die Bybel) en die uitsprake van die profete, die mees belangrikste van hul godsdiens.


Die skrifgeleerdes het verder gegaan en aan die Tien Gebooie meer reëls bygevoeg, byvoorbeeld: Die vierde gebod – ”Sabbat heilig hou...sewende dag geen werk...” definieer werk – elke beweging word ondersoek – vragdra is werk – wat is vrag? – mag jy jou kind dra op sabbat? Die skrifgeleerdes was verantwoordelik vir die optrek van al die reëls en regulasies terwyl die Fariseërs hulle afgesonder het van gewone daaglikse aktiwiteite om hierdie reëls en regulasies toe te pas. Dit was vir hulle die wese, die kern van godsdiens. ‘n Godsdiens wat bestaan het uit ‘n magdom moets en moenies en behoorts.


Jesus kom gee nou “volle betekenis” aan hierdie wet. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het een beginsel onvolmaak aangegryp: God se wil moes in alles gesoek word en Sy dissipels moet hul hele lewe daaraan toewy om dit toe te pas. Die skrifgeleerdes en Fariseërs se keuse was die regte een maar waar hulle verkeerd gegaan het was om die wil van God tussen hul magdom mensgemaakte reëls en regulasies te vind.


Wat is dan die regte beginsel? Is die wet van Moses nog nodig in ons moderne tyd? Het Christus dan nie vir ons die wet vervul nie? Waarom al die reëls as dit nie vir ons die saligheid inhou nie? Nee, die saligheid het ons reeds in Christus. Die regte beginsel is vir ons die reël van ons dankbaarheidslewe – dié een wat Jesus voor gekom het om “volle betekenis te laat kry.” Om die Tien Gebooie veeleer as ‘n blye boodskap te sien en die bedoeling daarvan te eerbiedig. Eerbied vir God; eerbied vir God se dag; eerbied vir ouers – vir lewe – vir eiendom – vir ander mense – vir die waarheid – vir jouself sodat verkeerde begeertes nie beheer van jou neem nie.


Hierdie eerbied en respek het Jesus kom vervul. Dit is nie die eer en respek wat aan ‘n magdom reëls en regulasies, moets en moenies en behoorts, gekoppel is nie, maar liefde. Liefde vir God en ons naaste.


Gebed: Hemel Vader, U het ons geskape om hier op aarde as U verteenwoordigers op te tree. As gelowiges is ons geroep om ons gedragskodes op al die terreine van die samelewing toe te pas volgens die eise van U Woord. U staan in die middelpunt van ons lewe. U wil en wet bepaal ons sedes. Ons behoort anders te wees, maar Here, ons staan skuldig voor U en sou ons eintlik op pad wees verderf toe. Dankie, dankie, dankie, vir U genadegawe van die ewige lewe wat U aan ons gee in Christus Jesus, ons Here.

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page