top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:14-16 – “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Vergelyk ook Jak 2:17 – “So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie is dit sonder meer dood.”


Christenskap moet gedemonstreer word as essensiële dade van geloof. Christene is “glo-mense” anders kan ons nie gered word nie. Christene is “doen-mense” omdat hulle gered is! Om ons Christen ligte te laat skyn, moet ons woorde deur ons dade bevestig word. Dit help nie die Here stuur iemand oor ons pad wat honger is, en ons gee hom niks om te eet nie. Om vir hom te sê gaan huistoe, ons sal vir jou bid, het nog nie aan sy behoefte voorsien nie. Hy is weggestuur met mooi geloofswoorde maar niks is aan sy behoeftes gedoen nie.


Goeie dade moet die evangelie ondersteun. Geloofsdade weerkaats die lig van redding wat Jesus bewerkstellig het.


"Actions speaks louder than words!”


God word daardeur verheerlik: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen dit tot eer van God” (1 Kor 10:31). Dit gaan nie oor ons wat deur ons dade Sy lig laat skyn nie, maar oor Hom wat ons die genade geskenk het en ons gestuur het om die lig te wees. “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra” (Fil 2:15-16). Diegene wie se voorbeeld as Christen van só aard is dat ander in hom twyfel, is nie ‘n goeie ligdraer nie.


Gebed: Vader in die hemel. Laat U gees ons lei dat ons lig as ligdraers van die evangelie só sal skyn, dat ander ons voorbeeld volg. Laat ons woorde en dade U behaag. Help ons asseblief dat wanneer ons aan die einde van die dag kom, ons nie skaam sal wees oor werk wat nie vir U gedoen is nie.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page