top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:14-16 – “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Vergelyk ook 1 Tess 1:6 – “En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. Onder baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom.”


Lig moet gesien kan word. Jesus sê dat dit nie weggesteek moet word onder ‘n emmer nie. Die antieke huise in Israel was baie donker binne. Die lampe wat gebruik was, is ‘n bakkie met olie en die pit drywend binne. Dit was nogal ‘n proses om die lamp brand te maak sonder vuurhoutjies van vandag. Die lamp is op ‘n staander geplaas maar wanneer die mense die huis verlaat het, was die lamp onder ‘n emmer gesit vir veiligheidsredes. ‘n Stad op ‘n berg se huislampe, (daar was nie straatligte nie), kon van alle kante af gesien word en het tydens ‘n maan- en sterrelose aand as rigtingwyser die pad aangedui.


Ons goeie werke moet gesien kan word, sê Jesus. Dit moet nie net goed wees nie, maar iets wat ander bekoor. Dit moet “ons Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Christene is nie verlos om geheime Christene te wees nie. Geloof is nie iets wat privaat is nie en “onder ‘n emmer geplaas word nie.” Gelowige dissipels se “lig moet voor die mense skyn” in hul woorde en werke buite die kerkgebou se mure, oral waar ons ons bevind. Ons taalgebruik moet ‘n lig wees wat donkerte verplaas en nie inpas by die donkerte wat ons omhul nie. Ons moet aan die wêreld wys dat Christus ‘n verskil maak. Die wêreld van ongeredde mense het lig nodig en ons as “ligdraers” van Christus, moet daardie lig wees.


Jesus het ons verlos om die wêreld te belig met die evangelie. Die moeilikste is om dit woordeliks oor te dra, veral aan diegene wat dit onwelkom vind. Ons moet egter getrou bly aan ons opdrag en Jesus het belowe dat “ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en ons Sy getuies in die wêreld is” (Hand 1:8).


Die evangelie wat Paulus verkondig het, het die mense van Tessalonika so aangegryp “dat hulle volgelinge van die Here geword het.” Paulus wat eens op ‘n tyd soos ‘n besetene die volgelinge van die Here bedreig het, se lig skyn nou in alle rigtings. Net so het die apostels, eenvoudige vissermanne, die lig van die evangelie geplaas waar almal dit kon sien en hoor. Hulle verkondiging van die evangelie het daartoe bygedra dat die Christendom van ‘n handjievol na ongeveer 2 biljoen gegroei het in 2000 jaar! Hoe skyn ons ligte? Is dit sigbaar in alle rigtings sodat almal dit kan sien en hoor? Sal ander die “Here aanneem as ons voorbeeld gevolg word?”


Gebed: Ewige God, Vader van alle lewe, wees asseblief ons Gids sodat ons lig so skyn dat ander kan sien ons is mense van die Lig. Vroeër was ons die ene duisternis, maar nou in U is ons lig. Laat ons dan leef as mense van die lig. (Ef 5:8)

Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page