top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:14-16 – “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Vergelyk ook Gen 1:3 – “Toe het God gesê laat daar lig weesI” En daar was lig.”


God het heel eerste lig geskep. Net soos wat daar by die skepping lig en lewe gekom het in antwoord op God se woord, bring God se mensgeworde Woord, Jesus Christus, ook lig en lewe vir elkeen wat in Hom glo.


Wanneer Jesus na ons verwys as lig vir die wêreld, moet ons besef dat Jesus die “fondament” van lig is. Hy is die oorspronklike lig. Jesus sê egter vandag nog: “Julle is die lig” – ‘n waarskuwingslig – ‘n lig wat gevaar aandui. Dit beteken om ander te waarsku selfs al beteken dit om onpopulêr te wees en vervolg te word. Dit is egter beter om te hoor dat ‘n ander nooit in ‘n sekere sondige moeilikheid sou beland het indien ons waarskuwinglig betyds geskyn het nie.


Om ‘n waarskuwingslig te wees kan ook beteken om ‘n waarskuwing te gee met jou arms om iemand – in liefde eerder as om gramskap te skep, ‘n irritasie te wees, afbrekende kritiek te lewer of veroordelend seer te maak. ‘n Waarskuwingslig in liefde is effektief. Dit is ‘n lig wat bly brand, oral.


Dit maak ook nie saak hoe groot die lig se gloeilamp is nie. Die gloeilampie binne die ligtoring wat skepe moet waarsku dat daar gevaar is, is maar klein. Dit is die spieëls rondom die gloeilamp wat die helderheid van die lig weerkaats. Hoe weerkaats ons lig? As ons God se kinders is, verteenwoordig ons die lig. Ons is die lig. Ons moet lig maak. Ons is soos die maan wat lig van die son moet weerkaats!


Gebed: Hemel Vader, met al die vakansiedae is ons geneig om ook “spesiale verlof” te neem. Dit is juis dan dat hierdie verlof nie moet ontaard in “spesiale geestelike vakansieverlof” wat ons tydelik vrystel van ons roeping om U lig te laat skyn nie. Herinner ons daaraan dat ons op puntdiens bly vir U en oral waar ons voete val, U lig te weerkaats. As dit vandag met ons moeilik gaan, help ons om sonder skroom te wys aan Wie ons behoort.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page