top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:14-16 – “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”


Om die impak van hierdie metafoor van Jesus te verstaan moet ons onthou dat in die antieke tyd daar nie straat-of huisligte was nie. ‘n Maan-en sterrelose nag, was vir die antieke mens ‘n intense ervaring en is gewoonlik gekoppel aan opvattinge van demone en ander bose geeste wat in die nag teenwoordig is. Nagte was pikdonker! Dink maar hoe dit by ons lyk tydens “load-shedding” en dit is ‘n maan-en sterrelose nag!


Jesus beklemtoon dat Hy die Lig vir die wêreld is terwyl Hy in die wêreld is (Joh 9:5). Wanneer Jesus dus sê dat ons die lig vir die wêreld is, is dit eintlik ‘n kompliment. Hy maak ons net soos Hy is, ligte vir die wêreld. Vir Sy luisteraars was dit ook ‘n bekende vergelyking wat hulle goed verstaan het. Hulle het immers self gespog dat Jerusalem die lig is vir die heidene.


Die primêre doel van lig is om mee te kan sien. Die primêre doel van ‘n Christen is om gesien te word. Hierdie sigbaarheid stop nie Sondae by die kerkdeur wanneer ons daar uitstap nie. Christenskap wat by die kerkdeur stop, baat niemand nie. ‘n Geheime dissipelskap verwoes juis dissipelskap!


‘n Christen se sigbaarheid word die beste duidelik daar waar ‘n winkelassistent teenwoordig is; ‘n Kelner verkeerde kos bring; die manier wat ‘n werkgewer sy werknemers behandel en omgekeerd; die skeidsregter wat ‘n verkeerde beslissing maak teenoor jou span; ‘n vrotbal wat geslaan word op die gholfbaan; die verkeersman wat jou stop; in die kombuis, klaskamer, myn – ja, oral waar ons ons bevind.


Jesus het nie gesê julle is die lig vir die KERK nie, maar “julle is die lig vir die WÊRELD!” ‘n Mens se wêreld is sy Christenskap wat duidelik moet wees vir almal om te sien.


Gebed: Here, hoe kan ons U weerkaats as ons gesig nie na U gedraai is nie? Help ons asseblief om ‘n lig vir ander te wees sonder om self in die lig te staan. U het in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God. Help ons om ‘n verskil te maak in die wêreld Here – begin by my.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page