top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”

Vergelyk ook Mark 16:15 – “Hy (Jesus) het vir hulle (dissipels) gesê: ‘Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.”


God het hierdie wêreld goed geskep (Gen 1:31). God maak nie foute nie – Hy het die wêreld ongelooflik mooi gemaak. Die mens het egter intussen die wêreld van ongelooflik na ongelowig verander. Die waarheid van God se skepping word onderdruk deur menslike teorieë wat ‘n verrotting en korrupte wêreld tot gevolg het. As die kerk van die Here nie hierdie verrotting onkeerbaar maak nie, sal dit toeneem. Die sout moet ‘ingevryf” word en aan almal aangebied word, sonder uitsondering.


Die sout van die evangelie moet daagliks versprei word. Die sout is nie daar net om Sondae gebruik te word en dan weer teruggeplaas te word op die rak nie. Dit beteken dat die sout van die evangelie ook bekend gemaak moet word selfs aan die regering, weermag, polisie, alle aardse instansies en nie net beperk word tot ‘n handjievol kerkgangers nie. Die penetrerende en reinigende krag van evangeliese sout is dinamies! Dit penetreer selfs sosiale en kulturele instansies.


Die apostels het die magtige Romeinse Ryk ingesout. Hulle het nie eers kommissies aangestel om die sondige situasies te ondersoek nie; ook nie debat gevoer om die voor- en nadele daarvan te bespreek nie; protesoptogte gereël om hul misnoeë aan te dui nie – hulle was nie tevrede totdat die evangelie “ingesout” was nie. Al het dit vervolging en selfs hul dood gekos.


Gebed: Here, as U vandag ‘n regsaak teen my maak, het ek nie ‘n kans nie. Ek moet bely dat baie van my diens nie godsdiens is nie, maar ten diepste nog selfdiens. My sout het nog nie ander gepenetreer nie. Ons verlang daarna om daagliks meer in U teenwoordigheid te leef sodat U ons kan oorrompel om sout vir ander te kan wees. Help asseblief Here!!

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page