top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”

Vergelyk ook Gen 6:11-12 – “Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.”


Wat bedoel Jesus met die metafoor “Julle is die sout vir die aarde?” Hoe gaan Sy dissipels (sluit alle Christene in) hierdie term verstaan? Wat is die implikasie van “vir die aarde?”

Jesus sê nie julle gaan sout wees nie, gaan wees asseblief sout nie of julle behoort sout te wees nie. Hy sê “Julle ís die sout...” Jesus verklaar dat elke Christen reeds sout is. Indien ons dan nie sout is nie, is ons werklik volkome Christen?


Sout was om verskeie redes belangrik in die antieke tyd – sonder yskaste of moderne metodes van preservering – onmisbaar. Israel het dit ook gebruik in hul godsdienstige rites as byvoeging tot graanoffers (Lev 2:13) en wierookoffers (Eks 30:35). Elisa het sout by die water gevoeg om dit weer bruikbaar te maak (2 Kon:20-23). Pasgebore babas is daarnee ingevryf (Eseg 16:4). Dit is ook gebruik om paaie hard te maak. Sout was gebruik om bedorwenheid te voorkom.


Net soos sout sy smaak moet behou en vir verskeie doeleindes aangewend is, moet die draers van die koninkryk wees om die Vader te verheerlik. Jesus was duidelik daaroor dat ‘n mens gesuiwer en gereinig moet wees om die Koninkryk te betree. Ons Here se metafoor is ‘n beroep aan Christene om die groeiende besmetting van die mensheid te voorkom. Om “sout vir die aarde” te wees beteken eintlik “julle is die instrumente” om hierdie besmette en korrupte wêreld te reinig van sonde. Elke Christen is opgeroep om te verhoed dat hierdie wêreld verder geestelik verrot en vuiler word.


Gebed: Here, lei ons tree vir tree deur hierdie dag. Herinner ons daaraan dat ons nie alles wat ons wil, kan doen of perfek doen nie. Net met U hulp kan ons egter ons bes doen, daarom kom soek ons opnuut hulp by U. Transformeer ons tot instrumente om sout vir die aarde te kan wees om U koninkryk hier op aarde uit te brei.

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page