top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”

Vergelyk ook Jak 1:27 – “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”


Ons leef in ‘n wêreld waar die verlaging van standaarde ‘n norm geword het. ‘n Verlaging van lewensstandaarde, standaarde van eerlikheid, van ywer, pligsgetrouheid en morele standaarde. Soms blyk dit dat daar geen standaarde meer is nie. Elkeen maak hul eie standaarde.


Die Christen daarenteen is die voorbeeld van suiwerheid en reinheid. Suiwer van spraak, gedrag en selfs gedagte. Geen Christen kan sy standaarde verlaag in ‘n wêreld wat besmet is met die verloklikhede van sonde nie. Ons kan ons ongelukkig nie onttrek van hierdie wêreld nie maar ons kan wel alles in die stryd werp “om ons skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”


Jakobus gee ons ‘n positiewe rigtingwyser om “sout vir die aarde” te wees. Ware godsdiens word deur ons optrede gesien – die dóén daarvan. Pragtige kerkgeboue beteken niks as God se liefde nie na ander toe uitgebrei word nie, veral na die “soutlose” wêreldlike gelowige. Ware godsdiens is rein en onbesmet want dit word deur God bepaal. As gesin van God hou ons ons weg van wêreldgelykvormigheid. Ons is ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie. Ons is God se soutkinders, nie Sy stoutkinders nie.


“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, al sy ingesteldheid om te besit – kom nie van die Vader nie maar uit die wêreld. En die wêreld met al sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen bly ewig lewe” (1 Joh 2:15-17). God se woord is die sout wat ons reinig van binne en as aardse sout, wíl ons die “wil van God” na buite doen.


Gebed: God van die huidige herfsdae, verhelder ons harte. Reinig ons van binne sodat ons die moed aan die dag sal lê om as sout in die wêreld, dinge te kan dóén. En as iemand sou sê ons aanraking het hul versterk of ons nabyheid het hul vertroos, dat hulle sal weet dit is U wat hulle in ons optrede ervaar het.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page