top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Vergelyk ook Rom 8:18 – “Ek (Paulus) is oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”


Jesus sluit Sy Saligsprekinge af met dieselfde belofte as die eerste: “want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Hy het die sirkel van Saligsprekinge voltooi en kon vir Sy volgelinge ‘n hemelse rykdom aanbied. Net Hy kon dit doen omdat Hy die Enigste is wat al aan die anderkant was en weet wat daar wag vir God se huisgesin.


Hulle wat alles verloor het as gevolg van hulle lojaliteit aan Jesus, het baie meer ontvang. Die vervolgers kan maar alles in die stryd werp om alles te steel en te verower van gelowiges, hulle sal nooit slaag om die hemel van die gelowiges in Christus, weg te neem nie. "Ons is erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid” (Rom 8:17b).


Gelowiges se oë is gevestig op God se toekomsbelofte, nie op korttermyn resultate nie. Ons kyk verby “die profete wat voor ons vervolg is.” Hulle wat doodgemartel is, bespotting en lyfstraf verduur het, gevangenskap, gestenig, in stukke gesaag (Jesaja), met die swaard vermoor (Heb 11:36-37). Selfs hulle wat huidiglik steeds ly in hierdie deurmekaar wêreld omdat hulle Christene is.


Die Hebreërskrywer sluit hoofstuk 11 af oor Bybelse geloofshelde met die veelseggende stelling dat al die helde oor wie soveel lof betuig kon word, tog nie die belofte van God volledig in besit geneem het nie. Die belofte is egter ‘n ewige erfenis. God het vir ons iets beters beloof.


Wanneer ons agtertoe kyk na geloofsgetuies wat ons voorgangers was en vervolg is, kyk ons op na Jesus toe, en dan vorentoe na ons toekomsbelofte. Die lewe kry dan sin en betekenis, met sy soet en suur, hartseer en trane. Ons is nou in genadetyd, God se tyd, om te verseker dat ons die “voleinding daarvan bereik” (Heb 11:40).


Gebed: Dankie God van hemel en aarde, dat ons kan vashou aan ‘n belofte wat ewigheidswaarde het. Dankie Jesus dat ons ‘n lewe saam met U kan hê al is dit nie ‘n probleemlose aardse lewe nie. U maak die lewe vir ons egter ‘n oorwinning oor ons probleme. Dankie o Gees dat U by ons is, nie om ons van ‘n gemaklike lewe te verseker nie, maar juis om ons in moeilike tye by te staan.

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page