top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Vergelyk ook Kol 1:24 – “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van Sy liggaam, die kerk.”


Al die Saligsprekinge is soms skokkend en moeilik om elke dag in alle omstandighede toe te pas. Die laaste een is amper verregaande! Hoe kan 'n mens vervolg word omdat jy doen wat reg is? Indien die Jode in Jesus se tyd verslae was daaroor, hoeveel te meer nie ons nie? Hierdie Messias wat vrede, vooruitgang, rykdom, blydskap en eer moes meebring, verkondig nou vervolging van Sy dissipels. Dit is ‘n totale uitklophou!


Jesus stel ware dissipelskap op die voorgrond. Om ‘n ware dissipel van Jesus te wees, is duur. Toe God Sy skepping van die sonde wou red, kon Hy aan geen ander manier behalwe die offer van Sy Seun vind nie (Rom 5:8). As Christus ons voorbeeld vir bediening is, kan ons dit nie vermy om na die kruis te gaan ter wille van ander nie. As ons doel is om ander na Christus te bring, moet ons gewillig wees om soos Hy verwerping te waag. Mense kan ons teleurstel, “beledig, valslik beskuldig,” ons motiewe verkeerd verstaan en selfs verag en “vervolg.” Ons Verlosser het nie toegelaat dat lyding verhoed dat Hy deur God gebruik word om hulle wat Hy liefhet, te red nie.


Wanneer ons swaarkry terwyl ons dissipels van Jesus wil wees en soms wonder of die prys wat ons daarvoor moet betaal, nie dalk te hoog is nie, is dit nodig om stil te raak en te dink. Neem ‘n oomblik om na te dink oor die prys wat God gewillig was om te betaal om ons te red!! Dan raak vervolging geseënd want ons “doen wat reg is!” Dan kan ons saam met Paulus bly wees (Kol 1:24).


Gebed : Ons dierbare Vader, wanneer ons swaarkry hoor ons U stem duideliker. Dit is dan wanneer ons dink aan ons opregtheid van ons persoonlike toewyding aan U. Help ons om onsself te verloën en ons kruis op te neem, positief op ons swaarkry te reageer, nie om moedeloos te raak nie en te besef dat U ons nooit alleen sal laat nie.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page