top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Vergelyk ook Fil 1:29 – “God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.”


Die vroeë Christene het dit ook nie maklik gehad nie. Menigte se lewenswandel is omvergewerp omdat hulle volgelinge van Jesus geword het. Hul Christenskap het hul sosiale lewe uiteengeskeur. Selfs families is uiteen omdat sommiges van hulle lojaal aan Jesus was en ander nie. Die enigste “misdaad” wat hulle gepleeg het was om Jesus te kies bo Romeinse wette. Dit het duisende se lewe gekos.


Polikarpus, (ongeveer 69-155n.C.), ‘n biskop van Smirna in die huidige Turkye, was seker een van die bekendste martelare. Hy is die keuse gegee om die keiser te aanbid of te sterf. Sy antwoord: “Vir 86 jaar het ek Christus gedien en Hy het my nooit verlaat of skade berokken nie. Hoe kan ek my Koning vloek wat my gered het?” Terwyl hy op die brandstapel is bid hy: “Almagtige God, Vader van die geliefde en geseënde Seun by wie ons die kennis van U ontvang het, ek dank U vir U genade dat U my waardig geag het om op hierdie dag, in hierdie uur, vir U te mag sterf.” Die vlamme het Polikarpus niks gedoen nie. Een van die soldate het hom met ‘n swaard daar doodgesteek.


In baie dele van die wêreld geniet ons vandag vryheid van geloof omdat mense soos Polikarpus hul lojaliteit aan Christus behou het. Hulle “loon” was geen vergoeding op grond van verdienste nie, maar hulle is die geseëndes wat uit genade deel het aan die koninkryk van die hemel. “Loon in die hemel” beteken loon by God. Hulle deel in die lot van die profete wat vroeër ook vervolg is. Hulle deel in die volk van God, die gelowiges, wat nou profete is.


Gebed: Here, saam met Paulus wil ons vandag getuig, swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop. Ons hou styf vas aan die hoop wat ons bely want U is getrou. Saam met Polikarpus wil ons nie ‘n ander keuse maak nie, behalwe om U dissipel te wees wat dóén want U doen wat U beloof het.

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page