top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”


Jesus se bergpreek eindig eintlik met een stuk onmoontlikheid. Jesus bak nie mooi broodjies nie. Hy was eerlik dat dit nie maklik sal wees om Hom te volg nie en om dissipels in die koninkryk van God diensbaar te wees nie. Dit sal nog moeiliker wees dat hierdie preek ‘n verskil maak in gelowiges se lewe of ‘n verskil maak in die wêreld waarin ons lewe. Om toegewy te wees aan Jesus het beteken om pyn, skande, vervolging en vals beskuldigings deur die wêreld, te beleef.


Om dít te bevestig is selfs die twaalf apostels wat saam met Hom geleef en gewerk het, tot die dood toe vervolg. Die enigste apostel wie se dood in die Bybel aangeteken is, is Jakobus s’n (Handelinge 12:2). Koning Herodes het Jakobus “met die swaard omgebring,” waarskynlik onthoofding. Die omstandighede van die dood van die ander apostels kom tot ons deur oorlewering. Die algemeenste aanvaarde kerkoorlewering, is dat Petrus onderstebo aan ‘n x-vormige kruis in Rome gesterf het in vervulling van Jesus se profesie (Johannes 21:18). Johannes het martelaarskap in die gesig gestaar toe hy in ‘n groot pot met kokende olie gegoei was tydens ‘n vlaag van vervolging in Rome. Hy is egter wonderbaarlik van die dood gered. Johannes was toe gevonnis en na die eiland Patmos verban waar hy die profetiese boek Openbaring geskryf het! Johannes het as ‘n ou man gesterf, die enigste apostel wat vreedsaam gesterf het. Dit is nie so belangrik hóé die apostels gesterf het nie. Wat belangrik is, is die feit dat hulle almal gewillig was om vir hulle geloof te sterf. As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, sou die apostels dit geweet het. Mense sal nie bereid wees om te sterf vir iets wat hulle weet nie waar is nie. Die feit dat die apostels gewillig was om wrede dode te sterf, geweier het om hulle geloof in Christus te verloën, is waaragtige bewys dat hulle werklik die opstanding van Christus gesien het.


Gebed: Hemelse Here, ons onthou nie net hoe feitlik al U apostels vervolg en vermoor is nie, maar ook hoe U eie mense U vervolg en vermoor het. U grusame dood het ons versoen met God. U wrede marteling het God se genade op ons drumpel kom aflaai. U vertoon aan die kruis en opstanding maak ons vry van haat teenoor ons vervolgers. Lei ons, o Gees, dat ons as gelowiges standvastig sal bly ten spyte van die aanslae van die wêreld en sy verkeerde dinge.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page