top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Vergelyk ook Matt 5:23-24 – “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”


Gedurende die Ou Testamentiese bedeling was daar selde regtig vrede tussen God se volk en ander volke. Te midde van al hierdie konflik tussen volke, verkondig die profete die koms van ‘n Messiaskoning wat gaan vrede bring. “Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring” (Jes 9:6).


Dan word Jesus gebore en ‘n menigte engele kondig jubelend aan: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Luk 2:14). Die Prins van die hemel kom word die Kind van die krip!


Christus bring Bybelse vrede – die vrede wat ons as Christen gelowiges, toegang tot God gee. Later met Sy kruisdood het Hy die muur van skeiding tussen ons en God oorbrug en ons met God versoen. “Deur die bloed van Sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” (Kol 1:20). Jesus bring ons tuis in God se arms in.


Sonde is nie net ‘n muur tussen God en ons nie, maar ook tussen ons en iemand anders. Om te dink ons het met God vrede gemaak omdat ons in Jesus Christus glo, is nie genoeg nie. Dit is nie volkome vrede nie. Wanneer ons gawes na die plek van versoening met God toe neem en dit ons daar byval dat iemand iets teen ons het, moet ons eers die vrede gaan herstel. Ongelukkig is dit ‘n feit dat ons in ‘n verskeurde wêreld leef en daarom sal dit miskien nodig wees om hierdie herstel-proses baie te herhaal.


Vrede het ‘n rimpeleffek. Ons verhouding met God rimpel uit na ons gesin, familie, vriende, gemeente en almal met wie ons daagliks in aanraking kom. In die huidige gespanne politieke toestand wat in ons land heers, is dit miskien nodig om weer die vrede wat Jesus na hierdie aarde gebring het, te verkondig. Hou op om onsself te besmet met net-wat-mens-kan-sien-negatiwiteit, en gaan soek God se perspektief op alles. Jesus het Sy lewe gegee ter wille van vrede. Wat gee ons?


Gebed: Almagtige Vader, ons wil baie graag as vredemakers kwalifiseer en ons besef dat dit sal beteken om met U in die regte verhouding te staan. Ons treur oor ons sondes. Ons harte is met hoogmoed en eersug gevul, in plaas van sagmoedigheid. Skenk ons ‘n rein hart o Heer, sodat ons as vredemakers kan optree, vredemakers wat nie dink aan ons eie belange nie maar aan die eer van God en ander mense.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page