top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Vergelyk ook Num 6:24-26 – “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot jul redding verskyn; die Here sal jul gebede verhoor en aan julle vrede gee!”


Die titel van “God se kind” is ontsaglik. Dit beteken ons is deur Sy genade toegelaat om deel te word van Sy kring van vrede op aarde. Om “kinders van God genoem” te word is om soos die Vredevors wat hierdie wêreld ingekom het, te wees.


Die vredemakers sal geseën word omdat hulle vrede verkondig en is navolgers van God in die hemel. Hulle maak vrede op ‘n vreemde, selfverloënde manier. Hulle is anders, eintlik wêreldvreemd. Hulle gaan soek vrede, draai die ander wang, loop die tweede myl. Hulle is “kinders van God” want hulle soek nie vrede ter wille van eie gewin en persoonlike voordeel nie, maar soek vrede om in dankbaarheid in God se koninkryk te kan dien.


Enigeen wat wedergebore is deur die Gees het ‘n brandende begeerte om Jesus se vrede te omhels en ander daarvan te oortuig. Ons is as “kinders van God,” Sy ambassadeurs op aarde. As Christen gelowiges is ons God se “vredeskorps” wat ander moet oortuig van Christus se vrede wat die engele aangekondig het 2000 jaar gelede. Christus wat aan die kruis met Sy laaste sterwensasem kon uiter: “Vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Christus wat met ‘n verheerlikte liggaam, na Sy opstanding, aan Sy bang dissipels verskyn en drie maal vir hulle sê: “Vrede vir julle.” Dít nadat hulle almal weggehardloop het tydens Sy kruisiging.


Wanneer ons Jesus raaksien, ontvang ons soos ‘n ongelowige Tomas, Sy vrede en alle vrese verdwyn. Deur Jesus verander ons en word ons deel van God se gesin. Níks is dan ooit weer dieselfde nie! “Die vrede wat Jesus vir ons nalaat, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh 14:27)


Gebed: Dankie Here dat U ons deel gemaak het van God se gesin. Help ons om ander met God te versoen, vrede te bewerkstellig eerder as om vredeswil stil te bly en uit ander se pad uit te bly. Lei ons as gelowiges om in vrede met alle mense te lewe (Rom 12:18). Beëindig tog al die geweld in hierdie wêreld wat daarop uit is om mekaar te vernietig en uit te roei. Ons land gaan ook deur ‘n tyd van ongekende onrus, opstand, geweldpleging en bloedvergieting. Ons bid dat geregtigheid en vrede die oorheersende kenmerk van ons land en die wêreld sal word – tot U eer. Lei ons terug van die weë van die dood na dié van die Lig.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page