top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Vergelyk ook Jak 3:17-18 – “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.”


Omdat die Heilige Gees ons harte verander het en nuut gemaak het, het Hy vrede bewerkstellig tussen God en ons en tussen mens teenoor mens. Jesaja het ongeveer 700 jaar voor Christus se geboorte al profeteer dat ‘n “Seun gebore sal word, ‘n Vredevors wie se heerskappy sal uitbrei en vir altyd vrede en voorspoed sal bring” (Jes 9:5-6). Die Prins van Vrede bring ware vrede vir ons! Wow!


Die Hebreërskrywer doen ‘n beroep op ons om ons te beywer om hierdie vrede wat Jesus gebring het, “met alle mense te hê asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb 12:14). Die “heiligheid en vrede” is die vrug van God se opvoedingswerk in ons lewe. Paulus het ook dit beklemtoon dat “sover dit van ons afhang, ons in vrede moet leef met alle mense” (Rom 12:18).


Niemand kan vrede uitstraal as hy nie eers vrede gemaak het met homself nie. Vredemaak kan net in ‘n gees van vrede geskied binne ‘n bekeerde, sagmoedige hart. Vredemakers is ook rein van hart. Dié twee kan nie geskei word nie. Daarvoor het ons wysheid nodig wat van “Bo” kom, hemelse wysheid wat anders is as aardse wysheid. Dit kom vanuit die goeie Bron van Godheid wat anders is as ons denke. Dit is suiwer, geen bybedoelings nie en ook geen verskuilde agendas nie. Dit is vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg.


Gebed: Here, maak ons werktuie van vrede sodat ons liefde sal beoefen waar mense mekaar haat; sodat ons wonde sal verbind waar mense mekaar seermaak. Maar help ons eers om vrede in onsself te bewerkstellig. (Gebed van Franciskus van Assisi, effens aangepas.)

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page