top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:8 – “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”

Vergelyk ook Joh 1:18 – “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.”


Jesus maak ‘n belofte dat dié wat rein van hart is, God sal sien. Dit is seker dié “most amazing” seëning. Om God te sien het beide ‘n huidige en toekomstige vervulling. Dié wat wedergebore is en wie se harte rein gemaak is deur die heilige Gees, sal God deur Sy Woord herken. “Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel” (1 Kor 2:15) en “as iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Joh 3:3)


Die belofte dat ons God sal sien is waar. Dié wat Jesus vertrou sal God “sien.” Hulle sal ‘n saligmakende visie van God beleef. God is Gees (Joh 4:24). Hy is onsienlik (1 Tim 1:17). Hy woon in ontoeganklike lig (1 Tim 6:16). Tog, “om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb 11:1).


Filippus vra Jesus om God aan die dissipels te wys. Jesus antwoord hom: ”Wie My sien, sien die Vader” (Joh 14:9). Diegene wie se harte rein gemaak is deur die Heilige Gees, sal opkyk na ‘n verheerlikte Jesus wat helderder skyn as die middagson. Petrus, Johannes en Jakobus het slegs ‘n skrams visie van ons Verlosser se glorie daar op die Berg van Verheerliking gesien (Matt 17:2). As die son ‘n duisend keer helderder skyn as tans, sal dit steeds, slegs ‘n skadu van God se glorie wees.


“In the heavenly horizon we behold beauty in its first magnitude and highest elevation. All lights are but eclipses compared with that glorious vision.” (Thomas Watson).


Johannes het hierdie hemelse visie vir ons beskryf in Openbaring 21:22-23. Wat ‘n wonderlike genade en voorreg om eendag saam met Jesus in die nuwe Jerusalem te kan wandel en daar vir God te sien (Op 22:3-5).


CS Lewis reken dat dit heeltemal veilig is om vir dié wat rein van hart is te belowe dat hulle God sal sien. Dit is in elk geval net hulle wat Hom wíl sien!


Gebed: Here, maak ons asseblief gereeld bewus dat die nuwe Jerusalem ons eindbestemming is. Maak ons gereed om in God se teenwoordigheid daar te wandel. Versterk ons geloof en toewyding aan U en tot U eer. Saam met al die Christen gelowiges oral in hierdie chaotiese wêreld, wil ons hierdie naweek bid dat ons sal bly glo soos kindertjies. Dankie dat U ons belowe het dat U ons nooit in die steek sal laat nie veral as ons magteloos voel in tye wanneer dit nie goed met ons gaan nie.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page