top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:8 – “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”

Vergelyk ook Spr 20:9 – Wie kan sê: “Ek is rein, ek is onskuldig, sonder sonde?”


Reinheid van hart beteken nie ‘n sondelose perfeksie nie. Niemand kan perfek wees nie, selfs nie hulle wie se “claim to fame” is dat hulle perfeksioniste is, nie. “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie” (1 Joh 1:8). “Daar is nie ‘n mens wat nie sondig nie” (1 Kon 8:46). “Daar is geen mens op aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nie sondig nie” (Pred 7:20).


Die Skrif verwys verskeie kere na die stryd tussen die gees en die vlees. Selfs die geloofshelde van die Bybel was in stryd daarmee: Paulus (Rom 7:7-26); Gelowiges (Gal 5:16-24); Noag dronk; Abraham vertel ‘n leuen; Moses was ongehoorsaam; Job verwens sy geboortedag; Elia twyfel en vlug vir ‘n vrou; Judas verraai Jesus; Petrus verloën Jesus. En so kan daar nog verskeie voorbeelde aangehaal word. Daarom beteken reinheid van hart nie sondelose perfeksie nie. Die waarheid is dat ons gedurig herinner word aan die onreinheid daarvan!


Reinheid van hart beteken ‘n hart wat gesuiwer is deur die Heilige Gees, deur God se genade geskenk aan hulle wat glo dat Jesus Christus vir hulle gesterf het. “Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee” (Titus 3:4-5).


Die hart van die Christen gelowige is skoon gemaak maar baklei nog teen die sonde. Dit is ‘n lewenslange taak om die sonde te bestry.


Gebed: Here, wie mag U berg opgaan? Wie mag in U heligdom staan? Die een wie se hande rein is en wie se hart suiwer is. Here, rig ons harte om U te ken.

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page