top of page

E-Kerk Gedagte vir Vandag


Matt 5:7 – “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”


Vergelyk ook Hand 1:8 – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”


Barmhartigheid is veel meer as die uitdeel van gawes – dit is om jouself te gee. God het nie net gawes gegee nie, Hy het Sy Seun gegee!


Om aan te sluit by gister se dagstukkie net die volgende: Dit was al laat die aand in Hillbrow (“Samaria”). Ons gemeente se Adyel Uitreikaksie was besig om kospakkies aan die “sypaadjie-slapers” (boemelaars) uit te deel. By een van die voedingspunte, nader ‘n jong seun my met ‘n versoek: “Baba, you must come and pray for my madala gran. He is busy dying.”


Ek verlaat ons groep en volg die seun in ‘n stikdonker steeg in. Hoe dieper die donker in, hoe banger word ek, maar ons beweeg immers in die rigting van die roggel-hoes. (Hillbrow is nie vir sissies nie.) Ek loop binne die jongman vas want hy het gestop. Hy stel my voor aan sy oupa, Thabo. Tussen die aanhoudende-hoes probeer ek die gesiglose groet. Ek sien hom nie maar weet hy’s daar êrens op die grond. Die stank van boemelaar-wees hang in die lug. Ek wonder in my enigheid watter siektes ‘n mens hier kan opdoen? Gaan ek nie dalk aangesteek word met daardie onaardse hoes nie? Gaan iemand nie dalk ‘n mes in my rug steek nie? Gaan...? Gaan....? My brein werk oortyd. Thabo groet my terug in Engels. Hy vra verskoning dat hy nie saam met die ander mense in die ry kan staan vir sy sop en brood nie. Hy klink moeg en baie siek. Hy sê hy is besig om te sterf.


Ek verstik feitlik van die stank maar sak op my knieë neer. “Oupa hoe oud is jy en ken jy vir Jesus?” hoor ek myself vra. Ek skrik vir my eie stem! “Ek is 68 en ken nie daai Man nie, nog nooit van Hom gehoor nie.” Ek verskoon myself en gaan haal ‘n Engelse Gideons-Bybeltjie by Hester, skryf Thabo se naam daarin en begewe myself weer in die donker stegie in. By die hoesbui gaan sit ek en vertel vir Thabo van die Man van Nasaret wat vir hom ook lief is. Hy bevestig hy kan Engels lees en sal die “boekietjie” lees by die dag want die nag druk hom dood!


Tydens die volgende uitreik sien ek die jong seun in die ry vir sop en brood. Hy glimlag breed en wys my die madala wat voor hom staan. “Thabo?” Hy draai na my toe, steek sy hand in sy vodde broek se sak en haal ‘n vuil Bybeltjie uit, hou dit in die lug en vertel aan almal wat wil hoor: “The Jesus of this Bible, brought me here. Next time I’m going to be front in the line, because I will then be able to run.”


Wat het hier gebeur? Thabo het nie beter geword omdat ons so oulik is nie, inteendeel, daar is na Thabo gekyk deur God se oë.


Gebed: Here, U het my woorde te ernstig opgeneem! Toe ek gesê het ek sal enige plek vir U gaan werk het ek nie Hillbrow of plakkerskampe bedoel nie. Dit druis heeltemal in teenoor my lewensstyl en netnou tel ek siektes daar op. Wie gaan dan die werk vir U doen? U het sekerlik my nie letterlik opgeneem nie. Dit was beeldspraak, Here! Net teoreties! Ek weet ek moet barmhartig wees teenoor almal, maar wees asseblief prakties Here. Hoe nou Here? U vra of U kruisdood ter wille van my ook net beeldspraak was – net teoreties?

Amen.

(Gebed van Flora Larsson verkort en effens aangepas.)

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page