top of page

E-Kerk Gedagte vir Vandag


Matt 5:7 – “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

Vergelyk ook Jak 2:15 – “Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,’ maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?”

Bybelse barmhartigheid bestaan nie uit ‘n gevoel of ‘n houding nie, dit is gedagtes wat in medelydende aksies verander. Dit help niks om net te vertel hoe mens omgee en hoe barmhartigheid toegepas moet word, en dit verander nie in fisiese aksie nie. “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Joh 3:17)

Jesus het tydens Sy aardse bediening barmhartigheid-in-aksie tentoongestel. Hy het nie net jammer gekry nie, Hy het gered ook. Hy het nie na die modderspore van sonde wat agter ons lê, gekyk nie. Hy het nie getel hoeveel afdraaipaadjies ons al gevat het nie. Hy het dit uitgevee met die kruis, ons bedelaarsklere uitgewas met Sy bloed.

Waar Hy lyding gesien het, het Hy tot aksie oorgegaan. “Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak (Matt 14:14). Sy hele aardse lewe getuig van barmhartigheid. Hy het daarmee tot aan die einde volgehou en was selfs bereid om in ons plek te ly en te sterf. “Daarom moes Hy in elke opsig aan Sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen” (Heb 2:17).

Gebed: Here God Almagtig, hoe kan ons barmhartigheid vandag toepas? “As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid” (Rom 12:8)

Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page