top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:7 – “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”


Barmhartigheid begin nie by die uiterlike handeling nie, dit gaan oor die innerlike gesindheid waarmee die handeling plaasvind. Hierdie innerlike gesindheid se oorsprong is om totaal afhanklik te wees teenoor God – om die wêreld deur God se oë te sien – en Dawid sing dat “die Here goed is vir almal en barmhartig is oor alles wat Hy geskep het” (Ps 145:9)


William Barclay op sy beurt reken barmhartigheid beteken letterlik om saam te ly. Om saam met iemand wat swaarkry te stap sodat hulle nie alleen is nie. Om nie die pyn wat iemand het, te probeer oplos nie, maar saam te ervaar.


Dit laat my dink aan ‘n storie van die dogtertjie wat iets by die winkel moes gaan koop. Sy het lank weggebly en mamma het al bekommerd geraak. Met haar tuiskoms wou mamma weet hoekom sy so lank weg was. Met nat gehuilde ogies en ‘n hartseer snikkende stem kon sy mamma vertel van haar maatjie se pop wat gebreek het. “O, toe het jy gebly om haar te help om die pop reg te maak?” “O nee, ek het gebly om haar te help huil!”


Barmhartigheid is omgee met jou hele hart, om ‘n verskil te maak, om betrokke te raak en nie net betrokkenheid te praat nie. Iemand het eendag gesê dat elke baba wat gebore word ‘n behoefte aan liefde het, en ons ontgroei dit nooit nie.


Gebed: Here, maak ons sensitief om saam met ander te ly. Laat U liefde ons meer liefdevol optree. Laat U oorvloed ons inspireer om vir ander om te gee. Laat die liefde van 1 Kor 13 ons lewenstyl word.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page