top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:6 – “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

Vergelyk ook Psalm 97:10 – “Julle het die Here lief, haat dan wat sleg is!”

Ons as gelowiges in Jesus Christus het ‘n sterk behoefte om in genade geestelik te groei en het ‘n ingebore sin vir geregtigheid. Die Heilige Gees verander ons harte van klip en laat ons honger en dors na Jesus. Ons wil breek met die ongeregtigheid van die sonde wat ons slawe gemaak het en elke dag steeds teister om ons sodoende verder en verder af te trek in die afgrond.


Ons haat die lewe van voorheen en as nuutgemaakte mens bely ons ons afhanklikheid voor God, treur ons oor ons sondige verlede en in sagmoedigheid soek ons na Jesus se geregtigheid.


As ons ernstig is om van die ongeregtigheid van die sonde ontslae te wil raak omdat ons “haat wat sleg is”, sal ons saam met die psalmis van Psalm 119 verklaar:

  • “Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan U woord!” (Vs 9)

  • “Aan U beloftes hou ek vas, dit weerhou my van die sonde teen U.” (Vs 11)

  • "U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys.” (Vs 15)

  • “Ek verlustig my in U voorskrifte, U woord vergeet ek nie.” (Vs 16)

  • “Here, leer my hoe om U voorskrifte uit te voer, sodat ek my tot die einde daaraan kan hou.” (Vs 33)

  • “Gee my insig, dat ek U wet kan gehoorsaam.” (Vs 34)

Ons daaglikse optrede, waar ons ons ookal bevind, moet vrugte dra wat wys dat ons in God se vrugteboord geplant is en wat met hemelwater natgemaak is. Ander moet kom “proe” aan ons en die smaak van die hemel só ervaar, dat hulle ook sal honger en dors na die regte “kos en water” en nie wil stop totdat hulle ook versadig is nie.


Gebed: Here, leer ons om U voorskrifte ons eie te maak. Ons wíl dit uitvoer, ons wíl tot die einde daaraan vashou, ons wíl dit gehoorsaam, ons wíl dit met ons hele hart onderhou. Ons is honger en dors na dit wat reg is maar saam met Paulus bely ons dat die wíl om die goeie te doen, nie deel is van ons sondige natuur nie. Laat U wíl geskied.

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page