top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:6 “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

Vergelyk ook Psalm 42:2-3 – “Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God.”

Dawid dors na God – Jesus verwys na geregtigheid. Wanneer ons voor die regterstoel van God staan, is Jesus ons geregtigheid. Hy antwoord vir ons by God. Hy strek Sy arms uit en staan tussen ons en God en wys die spykerdeurboorde hande aan God. Die onreg is klaar betaal – ten volle. Reg het geskied. Dit is egter net beskikbaar wanneer ons geregtigtigheid by Jesus soek.


Ons sal volkome versadig word indien ons honger en dors na Christus en Sy geregtigheid. Jesus se taal is eenvoudige taal: “Volg My!” Jesus nooi ons uit na Sy bankettafel, maar slegs “dié wat weet hulle is siek en soek ‘n dokter” (Matt 9:12). “Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet ons smag na die geestelike melk, sodat ons kan opgroei en die saligheid verkry” (1 Pet 2:2)


Die enigste wat hierdie geseënde honger en dors kan stil, is die Heilige Gees. Die Heilige Gees wek ons dooie harte op en bring ons na Christus toe waar ons versadig kan word en ons dors geles kan word. Hy nooi ons uit: “Kom almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.” (Jes 55:1-2)


Gebed: Drie maal Heilige God, U nooi ons uit met eenvoudige taal : Volg My en jy sal versadig word. Ag, maar Here, ons skryf so maklik met verskoning-taal bo-oor U uitnodiging. Vergewe ons daarvoor en laat ons siel nooit ophou honger en dors na die Lewende Water.

Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page