top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:6 “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

Honger en dors se oorspronklike betekenis bring ons gewoonlik tot ‘n waarneming van swaarlywigheid of ondervoeding en ‘n oopdraai van ‘n waterkraan. Dit is egter nie waarna Jesus tydens Sy preek, verwys nie.


Jesus deel nie sommer net ‘n klomp uitsprake wat in Sy kop was met die skare mense rondom Hom nie, Hy praat woord vir woord self, met ons. Dit is nie ‘n klomp dooie woorde wat in die Bybel opgeteken is nie, dit is lewende woorde want dit kom van ons lewende God! “Die Here het ons bekend gemaak van wat goed is. Hy vra van ons dat ons reg sal laat geskied, dat ons in liefde sal optree teenoor God en ons naaste!” (Amos 6:8)


Ons word wakker geskud uit ons droomwêreld van alles is maar “ok” tot die besef van ons swak geestelike toestand. Ons erken ons geestelike armoede daarom treur ons oor ons sondes en in sagmoedigheid ontdek ons God opnuut weer. Ons soek uitkoms deur geestelik honger en dors te word na wat reg is volgens God se maatstawwe want ons is afhanklik van Hom.


Die begeerte van honger en dors na God se geregtigheid behoort ‘n obsessie by ons te wees. Indien dit nie so is nie, het Jesus se preek geen verskil gemaak in ons lewe nie en sal ons ook nie ‘n verskil kan maak in die wêreld waarin ons lewe nie.


Hoe honger is ons? Hoe dors is ons? Jesus verwys nie na ‘n vinnige broodjie of slukkie water of koppie koffie wanneer ons honger of dors is, nee, Jesus daag ons eintlik uit: Soek wat reg is deur God, soos ‘n sterwende sonder kos en water.


Gebed: Here, ons is honger en dors na wat reg is. Nie dat dit óns reg is nie maar omdat dit uit genade aan ons gegee word. Ons soek na U en U wil vir ons lewe, bo ons eie status en plesier. Help ons o Heer, dat ons harte voluit aan U kan behoort.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page