top of page

E-Kerk - Gedagte vir die dag


Matt 5:5 “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”

Vergelyk ook Ps 37 “Moet jou nie ontstel oor.......”

Alhoewel daar nie pertinent in psalm 37 na sagmoedigheid verwys word nie, weerklink die saligsprekinge feitlik deur die hele Psalm.

Wanneer ons afhanklik van God is behoort ons nie bekommerd te wees oor aardse goed nie, veral as dit onregverdig bekom word. Maar dit is algemeen bekend dat dit blyk asof die onregverdiges en goddeloses floreer in voorspoed, veral wanneer hul voorspoed baat vind uit onregverdigheid. Hulle kom en gaan word gekenmerk deur “glamour.” Ongelukkig word die regverdiges verkeerdelik geinspireer deur hierdie “glamour” en probeer hulle dieselfde lewensstyl handhaaf. In swakheid gee hulle hulself oor aan hierdie treurige ellende.

Dit is dan ook diesulkes wat ‘n etiket van “Sondag-Christene” om die nek gehang word. Sondag sit hy met sy vroom en skynheilige gesiggie in die voorste gestoeltes van die kerk maar deur die week praat hy die taal van die wêreld. Sy Sondag-sagmoedigheid verander na ‘n kenmerkende harde persoon wat nie kaal hande aangevat moet word nie. Sy vreemde taalgebruik is nie die “vreemde tale” waarna die Bybel verwys nie. Dit is deurspek met onsensitiwiteit en vuil kragwoorde. Dit is sy metode om “respek” af te dwing! Sy verskoning: Toe Jesus gepraat het van sagmoedigheid het Hy nie met die huidige wêreldprobleme te doen gehad nie!

Is dit dít die soort getuigskrif wat Jesus aan ons, Sy dissipels wou gee?

Wanneer ons in afhanklikheid ons hand in die hand van God plaas en Hom vertrou, raak ons rustig – sagmoedig. Dan gee ons onsself nie oor aan woede nie. Die Here sal sorg. Hy sal voorsien. Dít is presies wat Jesus sê en Dawid het dit eeue vantevore al bevestig in Psalm 37:22 met: “Dié wat deur die Here geseën word, sal die land besit; maar dié wat deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word.”

Gebed: Onse Vader wat in die hemel is. Dit is so maklik om ons gebed in U Naam te begin, veral op Sondae. Maar deur die week reageer ons soos weeskinders wat ons Sondag Vader vergeet het. Ons word soos wat die onregverdigheid van hierdie wêreld dit wil hê, sonder beginsels van liefde. Here, neem asseblief ons hand sodat ons rustig kan raak en met sagmoedigheid U kan lééf.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page