top of page

E-Kerk - Gedagte vir die Dag

Matt 5:5“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”

Nee wat! Hierdie preek is nie vir my nie. Dit gaan moeilik wees om sagmoedigheid toe te pas. Ek kan nie hierdie preek lééf nie! Ons is nou wel deel van hierdie skare mense wat na die Man van Nasaret luister, maar intussen dwaal ons rond soos ‘n trop skape sonder ‘n herder. Nou sê Hy ons moet nog sagmoedig wees ook! Ons het eintlik gehoop Hy gaan ons vertel hoe om van die juk van onderdrukking ontslae te raak en nou dít! Sagmoedigheid gaan ons nêrens bring nie. Nog ‘n ding, waar gaan hierdie nuwe aarde vandaan kom waarna Hy verwys? Ons moet baklei vir elke lappie grond om ‘n bestaan te kan maak. Jammer, maar met sagmoedigheid gaan dit nie moontlik wees nie.

Sou ons nie dalk ook soos die Jode van destyds, só gereageer het nie?

Sagmoedigheid is nie ‘n woord waarmee ons geassosieer wil word nie. Veral nie in vandag se wêreld nie. Elkeen wat sy eie ding wil doen wil gewoonlik sy staal wys en dit gaan gepaard met hardheid en soms robuustheid. Om selfbehoud toe te pas moet mens ‘n maak-en-breek tipe wees. Sagmoediges is gewoonlik die ja-meneer-goed-meneer outjies wat sonder ruggraat maar elke dag na ander se pype dans.

Dit is nie wat Jesus bedoel het nie. Sagmoediges is nie skaam en teruggetrokke nie, inteendeel, Moses was volgens Numeri 12:3 die sagmoedigste man op aarde maar hy het ‘n ysterhand gehad. Hy het slawe uit Egipte gelei sonder om bang te wees vir die magtigste Egiptiese koning van daardie tyd. Hy kon dit doen omdat hy ‘n gesindheid van afhanklikheid en vertroue teenoor God gehad het.

Jesus sê self Hy is sagmoedig (Matt 11:29) maar Hy het nie eers vir die duiwel gestuit nie. Hy het selfs die wreedaardigste dood aan ‘n kruis gesterf vir ander. Is dít die beeld van ‘n papbroekige sagmoedige?

NEE, 'n HELD!!!!

Gebed: Dankie Here dat U ons leer dat sagmoedigheid nie ‘n swakheid is nie maar juis krag uit genade – krag wat deur U onder beheer gehou word sodat ons nie in swakheid ons aan onsself oorgee nie. O Gees van God, stroop ons van trots en eiewaan en maak ons sagmoedig teenoor ander, sodat ons mekaar se laste kan dra.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page