top of page

E-Kerk- Gedagte vir die Dag


Matt 5:4 – "Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word”

Vergelyk ook Rom 7:24 “Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos.”

Na ‘n week van treur kom die volgende vrae onverwyld by ons op:

  • Het jy al getreur oor jou sondes?

  • Het jy al soos die sondige vrou van Luk 7:37 só gehuil oor jou sonde dat jou trane op Jesus se voete val?

  • Was jy al bedroef soos die tollenaar en by God gepleit dat Hy jou as sondaar, genadig moet wees?

  • Het jy al op ‘n plek in jou lewe gekom waar jy voel jy soos die verlore seun van Luk 14:19 nie werd is om mens te wees nie?

  • Of dalk soos Petrus wat bitterlik gehuil het omdat hy Jesus verloën het (Matt 26:75; Mark 14:72.)

Indien jou antwoorde op bogenoemde vrae positief is, Dawid sê in Psalm 30 vers 6 dat dit gisteraand se trane was. Vanoggend kan jy weer lag. Jesus is die rede daarvoor. Ons is nie geseënd omdat ons hartseer is nie, ons is geseënd omdat ons hartseer ons by die Gees van God, ons Trooster, uitgebring het!!! Ons het soos die verlore seun vertroosting in God se omhelsing gevind. Hy het ons kom toevou met Jesus se kruisliefde! Daarom is dit ons eie keuse of ons gelukkig (geseënd) wil wees om ons hartseer na God toe te bring of eerder ons vertroosting by iemand of iets anders of op ‘n ander plek te gaan soek.

Wanneer ons deur siekte, dood of watter sonde ookal, gelouter word, is daar vertroosting by die Gees. Hy help ons wanneer ons treur en daarby moet ons onthou:

GOD GEE NIE ANTWOORDE NIE, HY IS DIE ANTWOORD!

Die kruisprys is vir ons as sondaarmense die grootste troos. Ons is vir ewig van sondeskuld verlos. Daarom kan ons juigend te midde van soveel ellende om ons daaglikse lewensbestaan, onder die warmte van God met ‘n glimlag leef.

"God gebruik gebroke dinge. Die grond moet gebreek word om ‘n oes op te lewer; gebroke wolke laat dit reën; gebroke graan voorsien ons van brood; gebroke brood by die nagmaal gee vir ons krag; dit was die gebroke Petrus wat bitterlik geween het, wat tot groter krag as ooit verhef is; waar bevind jy jou met jou gebrokenheid?” (Vince Harver)

Dawid sê in Psalm 51 hy was al skuldig toe hy gebore is, met sonde belaai toe sy moeder swanger geword het. Wanneer ons aan Jesus se perfekte heiligheid dink en dink aan ons eie toestand, dan is ons geneig om hooploos en hulpeloos te wil treur. Ons gedagtes, woorde en werke kom nie ooreen met God se wil nie. Ons sondes van versuim vermenigvuldig daagliks en ons weet dit stem God tot ongelukkigheid. Dit is asof ons liefde tot God en ons naaste en veral ons geestelike groei, taan.

Thomas Watson gee miskien die rede daarvoor: “Do you mourn because you understand how offensive your sins are to God your Father and that it is opposite the loving of Christ who shed His blood on your behalf. Do you mourn because your sins are a grief to the Holy Spirit?”

“Geseënd is dié wat treur....” Om as ‘n gelowige in Jesus Christus te treur is ‘n seën want dit lei ons om berouvol terug te keer na God toe en vas te grýp aan Jesus se kruis en daaraan te bly vasklou!! Paulus skryf in 2 Kor 7: 9-10: “Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie, want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood.”

Gebed: Dankie Here dat ons hartseer kan word oor ons sonde. Dankie dat ons dit by die kruis by U voete kan neersit en dit daar kan los. Dankie dat ons nie soos hooploses en Godloses hoef te treur nie want ons word deur U Gees gelei in die waarheid. Dankie dat U ons met U allesomvattende en allesdeurdringende liefde vertroos. Dankie Here, dat U ons as ellendige mens, van hierdie doodsbestaan verlos.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page