top of page

E-kerk - Gedagte vir die Dag


Matt 5:4 “Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word.”

Vergelyk ook Ps 34:6“Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagtinge nie.”

Daar is baie mense wat trane stort met hul oë, maar nie met hul harte nie.

“What a statement!”

Daar is menigtes wat treur oor die gevolge van hul sondes maar wat nie ‘n duit omgee wat God daaroor dink nie. Laat dit tog nie een van ons wees nie. Laat ons treur en uit afhanklikheid soek na God se vertroosting want sonde is ‘n verbreking van ‘n liefdesverhouding met God en daaroor mag en kan ons huil. Selfs ons mans ook!

Die probleem van sonde is dat ons so gewoond raak daaraan dat ons nie eers meer agterkom dat ons sondig nie. Dit neem selfs die skande daarvan weg en ‘n maklike maar-almal-doen-dit-dan sindroom word deel van ons gelowiges se lewensbestaan.

Is dít nie iets om oor te treur nie?

Ja, soms word ons woedend daaroor. Bitterheid neem oor en ons wend selfs ‘n poging aan om blaam te verskuif van die oorsaak daarvan. John Stott het gesê dat die sonde en die kind van God, onversoenbaar is. Hulle sal dikwels ontmoet maar kan nooit in harmonie saamleef nie. Is dit nie maar beter om positief oor ons ellendes te reageer nie en dit aan God oorlaat om ons te vertroos nie?

Die Heilige Gees lei ons om ons sondes te erken en te bely want ‘n Christen gelowige “sien op na Hom” en wéét dat daar vertroosting is en dít laat “ons straal van blydskap.” God vertroos Sy kinders wanneer ons opkyk na Hom. Hy stel ons nooit teleur nie want “Hy is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” (Ps 34:19.)

Gebed: Dankie Jesus dat U ons vandag weer laat regop sit het en weer laat luister het. Dankie dat ons kan opkyk na U toe en kan straal van blydskap want U vertroos ons eerder as om ons te verstoot. Dankie dat U naby ons is wanneer ons moedeloos en gebroke is.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page