top of page

E-Kerk - Gedagte vir die Dag


Matt 5:4“ Geseënd is die wat treur...”

Vergelyk ook Joh 13:30“Nadat Judas die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.”

Waaroor treur ons? Wat maak ons ongelukkig? Daar is weliswaar ‘n magdom dinge wat onmiddellik my gedagte binnedring terwyl ek hier skryf en ek glo u ondervind dieselfde gewaarwording terwyl u hier lees.

Elke mens treur ook nie dieselfde nie. Is die oorsaak van die meeste ellendes nie tog maar die sonde nie? Ons het hier bo gelees uit Joh 13 vers 30b dat “Judas uitgegaan het en dit was nag.” Wat het hier gebeur? Judas het besluit om die Ewige Lig te verlaat waar hy gekoester was, liefde ontvang het, vertrou is, (hy het die beursie gedra), en dit verruil het vir die ewige duisternis! Sy lewe het verander deur die verkeerde keuse, ‘n sondige keuse, te maak om die Lig te verruil vir die ewige donkerte. WAT ‘n KEUSE! En die gevolg daarvan – die dood! Judas se spyt (Matt 27:3) was te laat.

Is dit nie maar waarom ons ook soms treur nie – die sonde wat ons opvreet terwyl ons dit maar net by God moet los – voor dit te laat is?

Gebed: Here Jesus, ons is só jammer dat ons sondes die oorsaak was dat spykers U hande en voete moes deurboor. Só jammer dat ons sondes veroorsaak het dat U ‘n kroon van dorings moes dra. Here, skud ons wakker!! Neem ons weg van die duisternis en laat ons toe om in U ewige Lig te wandel. Dankie Here, soos Dawid wil ons ons sondes bely, ons oortredinge nie wegsteek nie en wéét dat U ons die pad sal wys wat ons moet volg.

Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page