top of page

E-Kerk - Gedagte vir die Dag


Matt 5:3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

Vergelyk ook Ps 32 - "Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie,...."

Ons is nog steeds saam met die skare teen die heuwel langs die See van Galilea. Die Rabbi het gaan sit om onderrig te gee. Ons is die ene ore. Net soos Moses die wet ontvang het op die berg, so kondig Jesus nou van ‘n berg af die grondwet van dié koninkryk aan.

Eers volg ‘n kern van agt seënuitsprake – die eerste vier handel oor dié wat God wil en die laaste vier oor die mens se verhouding met mekaar. Geseënd, gelukkig, welgeluksalig.....

Stadig verskuif die fokus na NG Fochville Noord. "Jesus se geheime tot geluk," word gelees. Ds Johan Brink en Ds. PC Pretorius lees Jesus se uitsprake asof dit Jesus self is wat aan die woord is. Geseënd is...... word ‘n refrein.

Die eerste geheim is treffend. Dit vorm die fondament van die ander geheime. Ons moet afhanklik wees, arm voor God, bankrot. Nie noodwendig arm in die materiële dinge nie maar arm en afhanklik tot in die kern van ons bestaan.

Daar is mense wat nie afhanklik wil wees nie. Gesonde en welvarende mense kan mos nie afhanklik wees nie. Ek het hard gewerk vir wat ek het en ek moet darem ietsie vir myself ook doen. Ek kom self reg, dankie. Ek is my eie baas en het niemand nodig nie. Ek kan nie help dat ek so sterk persoonlikheid het nie. Ek is oor niemand verleë nie. Ek... ek.....ek. Klink dit bekend?

Nou kom Jesus en sê deur die twee leraars van ons gemeente: “As ons onsself Christene wil noem, moet ons bereid wees om ons afhanklikheid by God te erken. Ons moet bedelaars by God wees. Ons kan nie self regkom nie want ons is innerlik bankrot. Ons is geestelik só arm dat ons nie eers vir God met ons goeie naam of ‘n voortreflike godsdiens kan beïndruk nie.”

Soos die tollenaar van Lukas 18 : 9-14 moet ons ons nood raaksien en God smeek vir Sy genade, want hy was van God afhanklik. Hy was bankrot en sy armoede was veroorsaak deur sy sonde. Dít laat ons besef dat ons ook diep in die skuld is by God. Al sou ons skatryk wees, moet ons saam met hierdie tollenaar kan bid: "Sonder U kan ons nie. Ons staan naak voor U. Ons is geestelik bankrot! Daar is nie ruimte vir 'n selfvoldane ek-ek-ek nie!"

“God’s delight is received upon surrender, not awarded upon conquest.

The first step to joy is a plea for help.” (Max Lucado)

Voor God staan ons met leë hande, totaal verlore. Al het ons materieël baie, raak ons bewus van ons armoede. Daarom kan ons met hierdie bankrotskap na God toe gaan en ons leë hande van geloof uitsteek na die gekruisigde Jesus Christus.

Ja, daar is nie ‘n waarborg dat ons afhanklikheid skielik gaan verander en daar nie meer ellende op ons pad gaan kom nie. Ons kan immers weet wat dit is om afhanklik te wees van God, ons kan Hom vertrou en in krisistye wéét Hy gaan ons bystaan.

Ons het ‘n versekering – ‘n lewenspolis – Jesus self bied dit en dit is gratis, verniet: “......want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (Matt 5:3b)

Gebed: Hemelse Vader. Ons erken ons geestelike bankrotskap voor U. Ons bely ons is afhanklik van U genade. Ons kan nie dit verdien nie en ook nie daarvoor werk of betaal nie. Ons het U nodig in ons hele menswees. Ons kan U niks aanbied nie behalwe ons sondige self. Dankie dat ons uit genade aan U kan behoort en afhanklik van U te mag wees.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page