top of page

E-Kerk - Gedagte vir die Dag


Matt 5:3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is........”

Vergelyk ook 1 Tess 4:5 “Julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word .......”

Om van God afhanklik te wees, klink reg om te sê. Dit lê so lekker op die tong. Dit beteken ons kan nie sonder God nie, ons het Hom nodig.

Maar bedoel ons dit? Dink ons nie dalk aan die dinge wat ons benodig om ons daaglikse bestaan só te maak dat ons kop bo water kan hou nie. C.S Lewis het gesê: “Mense dink aan God soos ‘n vlieënier aan ‘n valskerm dink. Sonder die valskerm sal hy nie gaan vlieg nie, maar Hy hoop nie hy kry dit nodig nie.”

Dan word afhanklikheid van God meestal ‘n toevallige nooddiens en nié ‘n daaglikse leefwyse nie. Dit gaan dan oor God as ‘n noodhulp van lewensmiddele en lewensnood.

Ons emosie stuur ons weer vir ‘n slag kerk toe net om darem weer die “batterye gelaai” te kry of om vir die dominee te wys ons is darem nog lidmate van die betrokke kerk. Die gevaar is natuurlik dat ons eintlik verlei word om te dink dat in elke vlaag emosie daar reddende genade en krag is.

Afhanklikheid van God is deel daarvan om beter te voel wanneer ons die kerk uitstap as toe ons dit binne gestap het. Ons gedagtes is gereinig deur die musiek en aanbidding. Ons stem saam met die heilige waarhede van die evangelie soos dit deur die leraars gelees en uitgespreek is. Ons soek God se lof as diens ná die erediens. Ons soek God se lof as lewe in die gebed ná die kerkgebede. Ons soek God se lof as lied in praktyk ná die lied in die kerk. Ons soek God in ons alledaagse bestaan. Dit is dáár waar ons Hom sal vind, in afhanklikheid!

Gebed: Dankie Here dat U vir ons lief is. Ons raadpleeg eerder boeke en mense en ja, soms die Bybel ook vir antwoorde om ons manier van lewe te verstaan. Maar om net die Bybel te lees of sommer net weer kerk toe te gaan omdat ons móét en nie eintlik wil nie, beteken nie noodwendig dat ons U raadpleeg nie. Help ons om al ons emosies en gedagtes op U te rig en na U te luister - Here, om werklik afhanklik van U te wees. Ons het 'n behoefte aan U. Stroop ons siel van alles wat onrein en sleg is, van hebsug, jaloesie en selfaanbidding.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page