top of page

E-Kerk - Gedagte vir die Dag


Matt 5:3 – “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is........”

Vergelyk ook Psalm 1 – “Dit gaan goed met die mens wat........”

Om van God afhanklik te wees is ‘n lewenshouding – hoe ons dink, praat, optree en doen. Dit is om af te klim van ons privaat troontjies van hoogmoed na totale afhanklikheid van God. Daardie selfgemaakte troon lei soms tot selfaanbidding ook. Daar is nie plek vir iemand anders op ons troon nie en as dit gaan soos met die ryk man van Lukas 12:16-21, ook nie vir God nie! Wel, ons ken die einde van Lukas se ryk man – hy het brandarm gesterf. Arm vir ewig!

Dit is nog vroeg in die nuwe jaar. Sommige nuwejaarsvoorneme is al klaar vergete.

Ons weet dat God die stramste knieë kan buig. Niks is vir Hom onmoontlik nie en wanneer ons juis ons afhanklikheid aan Hom toon, verander Hy die onmoontlike na moontlik! Laat ons voorneme vir 2016 wees om “ryk” aan afhanklikheid vir God se wil te word.

Sondige gewoontetjies is soos om op ‘n afdraande van ‘n heuwel te stap. Elke tree verder afwaarts maak dit moeiliker om terug te draai sodat die kruin weer bereik kan word. Om ‘n onafhanklike lewenswyse weg van God af te probeer handhaaf, is ‘n gevaarlike eksperiment!!!

Gebed: Here, ons moet bely dat die eie-ek ons hoogmoedig en arrogant maak. Ons aardse besittings en leefwyse maak ons selfvoldaan en selfgenoegsaam. Dankie Jesus dat U ons leer dat 'n verhouding met U, ons skatryk maak. Verander ons dat U wil en eer vir ons meer belangriker is as al die aardse rykdom. Verander ons leefwyse sodat ons lewende offers word wat vir U aanneemlik is. Moet asseblief nie toelaat dat ons aan hierdie sondige wereld gelyk word nie. Vernuwe ons denke sodat ons kan onderskei wat U wil is.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page