top of page

Saterdag gesprek van die Noord eKerk


Goeie More

Die boorgat wat gedeel moet word!

Johannes 7:37 “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink”.

Die Karoo en landswye droogte praat vanoggend met my. Julle weet teen die tyd dat ons nou in Vosburg woon. Soos Erika sê – die leegheid van die wêreld se volheid is genoeg om jou te vul......Ons was onlangs bevoorreg om een nag te staan en kyk en rondom ons was daar geen lig te sien nie. Die maan het egter enkele minute daarna opgekom en die aardkors gevul met die lig wat net die maan in ‘n donker nag kan bring.

Een laat middag was ons ook gelukkig om saam met vriende te ry. Hulle wou ons ‘n stukkie grond gaan wys waar die leiklippe besaai lê en waar “n “sukkel familie’ eendag gebly het en hulle kinders so goed en suksesvol groot gemaak het dat hulle almal tot vandag suksesvol is. Op die opstal het daar ‘n ou dam gestaan en die leiklip bouval was verweer deur die jare se wind. Nie vêr van die dam staan daar toe ‘n windpomp wat stadigaan draai in die aandbriesie om die nabye krip vol water te hou vir die skape wat daar kom drink wanneer hulle dors het........Katies vertel toe dat die boorgat maar kwalik 6 meter onder die grond is, maar dat daar nog altyd genoeg water was.

Soos die aand nader kom, stap ons daar rond en hulle brei uit oor die storie van die opstal en toe noem Katies weer. Frans, sê hy: “indien iemand weer eendag die opstal wil gebruik, moet die persoon so lewe dat hulle genoeg water spaar sodat die skape ook van die water kan gebruik, want water in die Karoo is ‘n skaars item. En, weet jy? Wanneer jy te veel water onttrek uit ‘n boorgat, jy eintlik die water brak maak!” Met ander woorde, ons moenie met water mors en soveel onnodig onttrek dat die water basies onbruikbaar word vir menslike gebruik word nie.....

Wat my toe tref was dat die gat maar kwalik 6 meter onder die grond is, en tog bied dit lafenis vir almal wat van dit afhanklik is. Jesus is basies ‘n “knie vêr” van my en jou af. As ons op ons knieë gaan, sak ons koppe ook af soos skape wat water drink. Die een groot verskil is, skape kom weer en weer terug, terwyl wanneer ek en jy van Jesus se water gedrink het, ons genoeg water het om van te lewe en om dit met ander te deel. Doen ek en jy dit?

Soos ons terugry na ons huis spoel die storie van die opstal en boorgat in my kop. Ek dink – “Frans, hoeveel water het jy al gemors wat ander se dors kon les? Hoeveel geestelike kennis het jy, en bly jy stil daaroor?..... Hoekom spaar jy nie “water” sodat ander ook daaruit kan put nie? Mors ek dalk soveel water en is ek so jaloers op my tyd, talente en gawes en so vir myself te gebruik, dat talle “skape” om my dors het.

Jesus leer ons weer vanoggend dat ons net by Hom hoef te drink, en dan sal ons dors vir ewig geles word.

Wat beteken dit vir my en jou? Wanneer ons van Jesus se water gedrink het, en ons Hom in ons harte het en dra, ons nie met die “water” (skat in ons hart) moet mors nie. Ons moet die water met ander deel sodat hulle dors ook geles kan word.

Het julle al gedink hoeveel mense het ons al die verkeerde pad laat loop omdat ons die “Jesus water” vir onsself hou. Drink ons soveel dat ons langs die krip lê en wag dat die windpomp weer draai sodat ons maar net weer kan drink, of vang ons van die water op, sodat ons genoeg het om die krip so vol te hou, dat ander ook van die water kan drink?

Lekker naweek

Frans

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page